Die Bybel in Afrikaans

Die Bybelvertaling het sy oorsprong in die Paarl gehad.
Om hierdie feesgeleentheid te vier, het ons ‘n geleentheid geskep om in hierdie feesjaar Bybelvoorlesings op te neem en op sosiale media en elektronies beskikbaar te stel.
Kom doen ‘n voorlesing op Saterdag 4 Oktober 2025 by HMS La Rochelle in die Paarl en help ons om die Woord te versprei.
By die keuse van u leesstuk moet u asseblief die tydsbeperking in gedagte hou.
Voorstelle vir voorleesonderwerpe:
Laerskool: Wonderwerke van Jesus
Hoërskool: Gelykenisse
Volwassenes: Psalms
Voorlesings kan uit die vertaling van u keuse gedoen word.
Toestemming vir die gebruik van die voorlesings sal op die dag van opname onderteken word.
Kliek hier om in te skryf:

Die Bybelvertaling in Afrikaans kan in vyf periodes ingedeel word:
Die inisiatief van die Genootskap van Regte Afrikaners (1872-1911)

Die eerste openbare pleidooi vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans was ‘n brief deur dr. Arnoldus Pannevis wat op 7 September 1872 in De Zuid-Afrikaan verskyn het. Daarin het hy daarop gewys dat die Nederlandse Statevertaling vir “de eenvoudiger gedeelte der bevolking” ‘n geslote boek geword het omdat hulle dit nie meer verstaan het nie.

Uit korrespondensie wat daarop gevolg het, het dit egter geblyk dat die meeste mense sterk gekant was teen ‘n Bybelvertaling in Afrikaans. As wegbereider vir ‘n Bybelvertaling het C.P. Hoogenhout in 1873 die verhaal van Josef in Afrikaans uitgegee: Die Geskiedenis van Josef voor Afrikaanse Kinders en Huissouwens, in hulle eige taal geskrijwe deur een Vrind.

In die slot van die boekie het hy ʼn sterk pleidooi gelewer vir ‘n Afrikaanse vertaling van die Bybel. Op 7 November 1874 het Pannevis en Hoogenhout regstreeks aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG) geskryf om te pleit dat ʼn Afrikaanse vertaling onderneem moet word. Pannevis, wat die Bybelvertaling suiwer om godsdienstige redes bepleit het, het in die brief Afrikaans in ʼn swak lig gestel, sodat die BBBG ʼn Afrikaanse Bybelvertaling afgewys het. Die BBBG het die saak nietemin na sy sekretaris in Suid-Afrika, ds. Geo. Morgan, verwys.

Op die predikantekonferensie in Julie 1875 op Wellington is die vertaling van die Bybel in Afrikaans toe ook afgekeur. Hierdie toedrag van sake het gelei tot die besef dat ʼn stryd begin moes word vir die erkenning van Afrikaans as skryftaal. Met die oog daarop is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 in die Paarl gestig onder leiding van ds. S.J. du Toit. Eers op ʼn vergadering in 1879 het die GRA besluit dat die tyd ryp was vir ʼn vertaling van die Bybel in Afrikaans. Die taak is in 1885 aan ds. S.J. du Toit opgedra.

Aanvanklik het die werk nie goed gevorder nie, maar nadat ds. Du Toit hom vanaf 1890 heeltyds daaraan kon wy, het die volgende boeke in Afrikaans verskyn: in boekvorm Genesis (1893), Mattheus (1895), Openbaring (1898) en Psamls (1907); in die tydskrif Stemmen des Tjids Hooglied (1905), Handelinge (1908) en Markus (1908). Voor sy dood in 1911 het Du Toit ook aan die vertaling van Lukas gewerk. Hoewel hierdie vertaling nie by die kerklike publiek ingang gevind het nie, het dit bewys dat die Bybel wel in Afrikaans vertaal kon word.

Die inisiatief van die Afrikaanse Kerke (1914-1923)
In 1914 het dr. B.B. Keet op Stellenbosch ʼn referaat gelewer oor “Die Bybel in Afrikaans”, waarin hy die samewerking van die Hollandse Kerke in Suid-Afrika vir die saak bepleit het. In 1916 het die Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Vrystaat op ʼn voorstel van ds. (later dr.) N.J. van der Merwe besluit om ʼn kommissie te benoem om, in samewerking met die Gereformeerde Kerk en die Nederduitsche Hervormde Kerk, die bekwaamste manne aan te wys en met die vertaling te begin.

Die saak is kragtig bepleit deur dr. J.D. du Toit, maar hy en dr. Keet was van mening dat die eerste vertaling in Afrikaans eerder net ʼn verafrikaansing van die Statebybel as ʼn nuwe vertaling uit die grondtale moes wees.

Die gevolg van die saak was dat ʼn aantal mense van die verskillende kerke hulle vanaf 1916 met die vertaling besig gehou het, en in 1922 het die proefuitgawe van Die Vier Evangelië en Die Psalme verskyn. Die nuwe vertaling is aanvanklik geesdriftig ontvang, maar dit het geblyk dat die taal te sterk Nederlands-gebonde was en gevolglik nie egte Afrikaans nie.

Die volwaardige onderneming deur die Afrikaanse Kerke (1923 -1933)
Met die verskyning van die proefuitgawe het dit geblyk dat die Afrikaanse volk uitgesien het na ʼn Bybel in hul moedertaal, maar dat die vertaling eerder uit die grondtale gedoen moes word en dat dit oorgesit moes word in die ware taal van die Afrikaanssprekende gemeenskap. Om hierdie doel te verwesenlik, moes heeltydse vertalers en Afrikaanse taaladviseurs benoem word. As eindvertalers is drr. J.D. du Toit en B.B. Keet aangewys, maar aangesien dr. Keet nie vrystelling van sy doseerpligte aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch kon kry nie, is dr. J.D. Kestell in sy plek benoem. Dr. Du Toit sou vir die Ou Testament en Dr. Kestell vir die Nuwe Testament verantwoordelik wees. Later het nog eindvertalers bygekom drr. H.C.M Fourie en E.E. van Rooyen en uiteindelik ook dr. B.B. Keet.

ʼn Aansienlike aantal medewerkers en adviseurs het belangrike bydraes gelewer. Die Afrikaanse taaladviseurs was proff. S.P.E. Boschoff, T.H. le Roux, D.F. Malherbe en J.J. Smith. In 1927 het dr. C. Van Gelderen, Semitikus aan die Vrije Universiteit, Amsterdam, vir ses maande na Suid-Afrika gekom as adviseur vir die vertaling van die Ou Testament uit die Hebreeuse grondteks. In 1929 is ʼn hersiene uitgawe van Die Vier Evangelië en Die Psalme gepubliseer. Dit het by die kerklike publiek byval gevind en as spoorslag gedien om die volledige vertaling so gou moontlik te voltooi. Hierdie doelwit is in 1933 bereik. Op 29 Mei 1933 het die eerste besending Afrikaanse Bybels met die Carnavon Castle uit Engeland in Kaapstad aangekom.

Op Sondag, 27 Augustus 1933, is die Afrikaanse Bybelvertaling oral in die land feestelik ontvang. Die sentrale feesviering was in Bloemfontein, waar onder andere drr. J.D. Kestell en J.D. du Toit deelgeneem het. Die fees is gekenmerk deur groot geesdrif, blydskap en dankbaarheid. Van toe af sou die Afrikanervolk “die groot dade van God in hul eie taal hoor”.

Die periode van hersiening (1933 – 1953)
Die eindvertalers het besef dat ‘n hersiening van die vertaling nodig was, veral in die lig van die bespreking wat op die publikasie van die nuwe vertaling gevolg het. Hulle het ook van die kerke opdrag gekry om met die werk voort te gaan. Omdat drie van die eindvertalers in hierdie tyd te sterwe gekom het, het net drr. J.D. du Toit en B.B. Keet oorgebly om die werk af te rond. By die verskyning van die hersiene uitgawe in 1953 het nog net dr. Keet gelewe.

Hierdie vertaling het voortreflike hoedanighede gehad en was van besonder groot betekenis vir die vestiging van die Afrikaanse taal. Tog het die ontwikkeling van Afrikaans en ander belangrike faktore dit nodig gemaak om na 40 jaar opnuut met ʼn vertaling te begin. As die eerste vrug hiervan het Die Blye Boodskap in 1975 verskyn.

Die Blye Boodskap
Die werk aan hierdie vertaling het in 1970 begin, en dieselfde jaar reeds het ʼn proefvertaling van ses Bybelboeke verskyn. Die reaksie was gunstig. Die kommissie het toe met erns voortgewerk aan die nuwe vertaling. Toe die Afrikaanse Taalfeesjaar aanbreek, wou die Bybelgenootskap ook ‘n bydrae lewer tot die herdenkings in die feesjaar, te meer omdat die Bybelvertaling van die begin af so nou gemoeid was met die ontwikkeling van die Afrikaanse taal.

Die Kommissie van Vertalers het toe die nuwe vertaling van die vier Evangelies, Handelinge en vyftig Psalms vir publikasie gereed gemaak. Dit is gepubliseer onder die titel Die Blye Boodskap. Op 30 November 1975 is die publikasie by ‘n feestelike geleentheid in die kerk van die Ned. Geref. Gemeente Universiteitsoord, Pretoria, in gebruik geneem. By die geleentheid is die eerste van 500 genommerde en getekende eksemplare aan die Staatspresident oorhandig. Binne die eerste jaar na publikasie is ‘n paar verbeterde herdrukke uitgegee en is ongeveer 250 000 eksemplare versprei.

Die nuwe vertaling
Na die onderskeie voorlopige vertalings het die Bybelgenootskap van Suid-Afrika in 1979 die nuwe vertaling van die volledige Nuwe Testament en al 150 psalms uitgegee onder die titel Die Nuwe Testament en die Psalms. Intussen word die werk aan die vertaling van die Ou Testament en die finalisering daarvan voortgesit.

Die eindredaksie, wat verantwoordelik is vir die finalisering van die vertaling, is proft. E.P. Groenewald (voorsitter), J.P. Oberholzer (ondervoorsitter), A.H. van Zyl (sekretaris), W. Kempen (taaladviseur), J.L. HeIberg en P.A. Verhoef. Hierdie nuwe vertaling van die volledige Bybel het in 1984 verskyn.

Die 2020-vertaling (‘n Direkte vertaling)
Verskeie sake het ‘n rol gespeel by die besluit om ‘n nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans voor te berei.

Die belangrikste oorwegings was die volgende:
1. In Afrikaanssprekende kerke is daar die behoefte vir ‘n Bybelvertaling wat sterker aansluit by die bronteks (dit wil sê die Hebreeuse, Aramese en Griekse tekste) as die bestaande vertalings. Baie gelowiges het behoefte aan ‘n Bybel wat so na moontlik aan die bronteks, maar steeds goed verstaanbaar, is.

2. Vertaalkunde het as ‘n wetenskap geweldig ontwikkel sedert die publikasie van die 1983-vertaling in Afrikaans. Tot in die helfte van die vorige eeu het alle vertalings ‘n letterlike of woord-vir-woord benadering gevolg, soos die 1933/53-vertaling. Die 1983-vertaling verteenwoordig die verdere ontwikkeling in vertaalkunde waarin die klem meer val op ‘n gedagte-vir-gedagte of betekenis-georiënteerde vertaling. Alhoewel hierdie vertalings vir baie lesers die Bybel meer toeganklik maak, verg hulle heelwat meer interpretasie van die kant van vertalers as in die geval van woord-vir-woordvertalings. Dit is dus te verstane waarom sommige gevestigde kerke en meer ernstige Bybellesers (byvoorbeeld in Bybelstudiekringe) begin voel het dat hierdie vertalings hulle soms van die bronteks vervreemd.

3. Onlangse ontwikkelinge in Bybelvertaalkunde het ook bevestig dat daar met reg by kerke en Bybellesers behoefte mag wees aan vertalings wat verskillende funksies vervul. Terwyl die aard en omvang van hierdie funksies oordryf kan word, is daar konsensus dat gevestigde kerke behoefte sal hê aan ‘n vertaling wat nie net so naby as moontlik aan die bronteks is nie, maar ook aan die vreemdheid en andersheid van die Bybel as antieke godsdienstige teks reg sal laat geskied. Hierdie soort vertaling fokus nie daarop om die Bybel vir lesers in terme van hulle eie leefwêreld lekker te laat lees nie. Dit neem eerder lesers na die Bybel in se eie tyd en leefwêreld. Alhoewel dit altyd gangbare idiomatiese Afrikaans moet wees, word die letterkundige aard en struktuur van die bronteks, asook die gebruike nie gemoderniseer nie.

Daar is dus duidelik ‘n behoefte aan so ‘n vertaling van die Bybel in hedendaagse Afrikaans naas die bestaande woord-vir-woord vertaling van 1933/53 en die dinamiese vertaling van 1983 asook ander vertalings wat nie deur die Bybelgenootskap voorberei is nie.

Ons kennis van die tale waarin die Bybel oorspronklik geskryf is, het in die afgelope aantal jare uitgebrei. Meer onlangse taalkundige modelle, asook die moontlikhede wat rekenaarprogramme bied, het ons kennis van die Bybeltale laat toeneem.

Bronnelys:
Marais, Ben: Biblia 70 – Die Jaar van die Bybel. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 19, nr. 4, Junie 1970
Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0908409451
Bybeldirektevertaling.co.za